Marcuskraal
Marcuskraal 4×4 en Kampeerterrein is ongeveer 20km vanaf Citrusdal geleë en is 2 uur se reis vanuit Kaapstad. Die ligging maak dit ideaal vir naweekbesoekers wat ontvlugting uit die stad soek, maar nie ‘n groot deel van hul naweek op die pad na hul bestemming wil spandeer nie.
Met 4×4 roetes wat deur bergfynbos kronkel en asemrowende uitsigte oor die Sederberge, bied Marcuskraal ‘n ongeëwenaarde ervaring vir natuurliefhebbers en 4×4 entoesiaste. Die roete bied ‘n wye verskeidenheid rytoestande aan: van dik sand en los klip paaie tot steil rotshellings.
Die nuutgevestigde kampeerterrein bied grasperkbedekte terrasse, ‘n oorvloed skadubome en besonder netjiese en skoon badkamergeriewe. ‘n Swembad verskaf lafenis teen die hitte. Alle kampeerplekke is voorsien van elektriese kragpunte.
Met tariewe wat gemik is op die plaaslike mark bied Marcuskraal ‘n bekostigbare naweekwegbreek vir 4×4 entoesiaste wat die pragtige Sederberge- en Weskusstreek wil ontdek.
